Kies Taal


school nutrition

 

Nasionale Skoolvoedingsprogram

TERSAAKLIKHEID VAN DIE PROGRAM

Die Oos-Kaap is die tuiste van 2 696 000 kinders onder die ouderdom van agtien (18) jaar wat vyftien persent van die totale kinderbevolking in hierdie ouderdomsgroep in Suid-Afrika uitmaak. In 2012 is daar gerapporteer dat ongeveer 72,4% (1 951 000) van hierdie kinders in armoede-inkomste-huishoudings woon, terwyl 20,4% (550 000) van hulle in huishoudings woon waar kinderverhongering aangemeld is.

As deel daarvan om hierdie uitdaging te oorkom, het die Oos-Kaapse Departement van Onderwys oor die laaste een-en-twintig jaar deur die implementering van die Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSVP) ’n maatskaplike veiligheidsnet voorsien wat gemik is op armoedeverligting vir hierdie kwesbare kinders.

Dit dra ook by tot die verbetering van onderriguitkomste deur laerskoolleerders se leervermoë, skoolbywoning en stiptelikheid te versterk.

MEER OOR DIE NSVP

Alle Suid-Afrikaners, insluitend kinders, het ’n reg op toegang tot voldoende voedsel, asook basiese voeding en onderwys, soos in die land se Grondwet vervat. Die NSVP is ’n belangrike komponent van regeringspogings om kinders se regte te verseker en om sy doelwitte te bereik om armoede uit te wis.

Die program is een van die eerste inisiatiewe van die eerste demokratiese regering en word deur ’n voorwaardelike toelae befonds. Dit het aanvanklik op laerskole gefokus, maar dit maak tans ook voorsiening vir hoërskoolleerders in agtergeblewe gemeenskappe.

PROGRAM SE FOKUSAREAS

Die doel van die Departement is om behoeftige leerders se nood te verlig deur voedsame maaltye te voorsien.

Alle skole in die land is gegradeer van kwintiel 1 tot kwintiel 5 ten opsigte van beskikbare hulpbronne en die sosio-ekonomiese vlak van die plaaslike gemeenskap.

Die program maak dus voorsiening vir alle leerders in kwintiel 1 tot 3 laer- en hoërskole, asook leerders in geteikende spesiale skole.

Dekking vir die 2015/16 finansiële jaar sluit 1 730 257 leerders in 5 348 skole in, wat ’n 29%-toename vanaf die 2008/09 finansiële jaar verteenwoordig.

VOEDINGSONDERRIG

Die doelwit van voedingsonderrig is om gesonde leefstyle en goeie voeding onder skoolgemeenskappe te bevorder, en dit word bereik deur boodskappe oor gesonde leefstyle in die gedrukte en elektroniese media, asook ander promosiemateriaal oor te dra.

Voedingsonderrig word ook uitgebrei tot vrywillige voedselhanteerders (VVH’s) wie se vermoë om kos voor te berei, higiëne asook voedel- en gasveiligheid toe te pas, uitgebou word deur verpligte gestruktureerde werkswinkels wat hulle tydens hul amsptermyn moet bywoon.

AANBEVOLE SPYSKAART-OPSIES

’n Gekookte maaltyd bestaande uit ’n proteïenryke voedselsoort, ’n stysel en ’n vrug of ’n groente word daagliks vir alle geteikende leerders bedien, verkieslik teen 10vm. ’n Spyskaart met ’n een-week-siklus met gespesifiseerde hoeveelhede vir voedsel is beskikbaar vir elk van die deelnemende skole en verseker ’n verskeidenheid.

LEWERINGSMODEL

Sedert die begin van 2011 gebruik die provinsie ’n gedesentraliseerde verkrygingsmodel. Volgens hierdie model ontvang skole kwartaalliks fondse direk van die provinsie, en bekom dienste vir die voorsiening en lewering van voedsel op hul eie.

As ’n skool befondsing vir enige verkryging wil ontvang, insluitend NSVP-verkryging, moet dit Artikel 21-status hê (SA Skolewet van 1996). Hierdie status dui aan dat hulle die nodige vaardighede en kundigheid het om die skool se finansies en verkrygings te hanteer.

Hierdie skole het ’n skoolbeheerliggaam (SBL) wat jaarliks oor finansiële bestuur en verslagdoening opgelei word. Skole sonder Artikel 21-status het gedeeltelike status ontvang om NSVP-verkryging moontlik te maak.

GEMEENSKAPSDEELNAME EN EKONOMIESE UITVLOEISELS

Die NSVP vereis dat ’n skoolgebaseerde komitee toesig sal hou oor die beplanning en implementering van die voorsiening van daaglikse maaltye vir leerders, en gemeenskapslede word aangemoedig om deel van sulke komitees te wees.

Die program maak ook gebruik van vrywillige voedselhanteerders se dienste wat daaglikse maaltye vir leerders voorberei. Die Departement het 11 490 vrywillige voedselhanteerders vir die huidige finansiële jaar aangestel. Hierdie 11 490 arm plaaslike inwoners in die skoolgemeenskap word gekontrakteer om maaltye vir leerders teen ’n maandelikse betaling van R960,00 voor te berei wat op R132 364 800 per jaar neerkom.

Die NSVP-bydrae tot die maatskaplike toelae beloop R971 734 137 per jaar wanneer voedselpryse in berekening gebring word. Die verkryging van voedsel deur skole by plaaslike entrepreneurs, ontluikende markte en ander sakeondernemings lewer ’n enorme bydrae tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling (PEO).